Bedienings

Dit is vir ons ‘n vreugde om in die Here se diens te wees en onsself as vrywillige offers te gee vir Sy bedieninge. Daar is geen grense aan God se goedheid en Sy almag nie, en daar word vir almal voorsiening gemaak. Linden Gemeente verstaan dit en leef dit uit – in mense se harte en in hul lewens.

Gereformeerde Kerk Linden se bedienings kan in vier groepe ingedeel word:

Bedienings

Lofprysing
Gebed
Lewenswyse

Voed
Gee
Vertel
Hulp
Genade

Samesyn
Liefde
Omgee
Bemoedig
Gebed

Verryking
Seminare
Kursusse
Verdieping

Aanbidding | Lofprysing • Gebed • Lewenswyse

Musiekbediening


Musiek speel ‘n baie belangrike rol in ons gemeente. Dit is een van die maniere om Jesus te aanbid, jou hart voor Hom uit te stort en om Hom lof te bring omdat Hy so almagtig is.

Kontakpersone:

Gebedsbediening


Een ding wat ons oor en oor as ‘n werklikheid beleef het, is die woorde van 1 Korintiërs 12:7

“Maar aan elkeen word die openbaring van die Gees gegee met die oog op wat nuttig is.” 

Die mense wat op die gebedsbediening dien, is nie anders as die res van die gemeente nie. Ons is immers ‘n biddende gemeente. En elkeen van ons weet dat daar ‘n verskeidenheid van genadegawes, bedieninge en werkinge is wat God, deur die werking van die Heilige Gees, aan die gemeente gegee het. So getuig elke lid van die gebedsgroep dat hulle ‘n behoefte ontwikkel het om vir ander mense te bid; dat hulle oortuig was dat God hulle daartoe geroep het en dat hulle om dié rede by die gebedsgroep aangesluit het. Alle gebedsversoeke word vertroulik hanteer. Daar word ook gebid vir uitreike wat vanuit die gemeente plaasvind.

As God dit in jou hart wakker maak om by die gebedsgroep aan te sluit, kan jy gerus ‘n WhatsApp stuur aan Kobus Petzer of bid@linden.org.za .

Gebedsversoeke kan na dieselfde adres gestuur word.

Die Gebedsbediening se Polisiegebedsgroep.

Verskeie kerke in ons omgewing besoek die Polisie vroeg-oggend en laat-middag om vir die polisiebeamptes, wat op patrollies uitgaan, te gaan bid – en om ‘n bemoedigende boodskap uit die Bybel aan hulle te bring. GKL is tans geskeduleer om elke Donderdag half-ses in die oggend en half-ses in die middag vir die beamptes te gaan bid.

Daar is ook ‘n behoefte uitgespreek deur die Speurafdeling – kan julle nie vir ons ook kom bid nie? Hulle parade vind in die oggend om 07h30 plaas, wat vir baie van ons ‘n ongemaklike tyd is om te gaan – hoofsaaklik a.g.v. die verkeer wat daarna trotseer moet word.

Die Linden Polisie het groot waardering daarvoor dat ons vir hulle bid want hulle sien die resultate daarvan.

Kontak Kobus asseblief per Whatsapp as jy lus is om Donderdae saam te gaan. Die Whatsapp nommer is maklik om te onthou 082 8555 900.

Gebedspunte | Laai pdf af

Kontakpersoon:

Los asseblief ‘n boodskap indien Kobus nie onmiddelik antwoord nie

Uitreik | Voed • Gee • Vertel • Hulp • Genade

Sopkombuis


Die sopkombuis word bedryf deur twee spanne. Die wat fisies die mense elke Donderdagoggend bedien, 8vm by die Halleluja huis op die kerk perseel. Daar word ook `n kort boodskap deur een van die span gebring. Die ander span is die gemeentelede en ander vrywilligers wat kos vooraf maak en aflewer. Elkeen kry een beurt per kwartaal. Op die ander dae van die week is daar sopkombuise by naburige kerke in Linden en omgewing. Mense wat ander hulp benodig word na Tshepo verwys.

Kontakpersoon:

Tshepo — “hoop”


Tshepo is `n gemeenskaps-gebaseerde organisasie in samewerking met die Linden Fraternal van Kerke. Hulle vat ook hande met die plaaslike regering. Hulle doelwit is om programme te ontwikkel en te implementeer om mense holisies te bemagtig om onafhanklik en volhoubaar op hulle eie voete te kan staan. Tshepo is `n geregistreerde nie-regerings organisasie met `n eie webwerf www.tshepo.org.za.

GKL is een van die gemeentes wat hul ondersteun.

Kontakpersoon:

Alpha Tronkbediening


Die Alpha kursus word wêreldwyd in tronke en by gemeentes aangebied om nuwe Christene, ongelowiges en kerklos mense aan Jesus voor te stel en aan hulle die basiese beginsels van die Christelike geloof te verduidelik. Gemeentelede van GKL is deel van die span wat twee keer per jaar Vrydagoggende die Alpha kursus asook twee opvolg kursusse aanbied by Medium B- gevangenis by Leeuwkop. 

Kontakpersoon:

Huis Mouton Linden


Huis Mouton is ‘n sateliethuis van Abraham Kriel vir seuns. Die huis word deur Abraham Kriel onderhou. GKL lidmate help met huiswerk, borg ‘n kind per maand vir toiletware of klere en raak betrokke by die ontspanningsaktiwiteite vir die kinders.

Kontakpersoon:

Blessing our Keepers

Koinonia | Samesyn • Liefde • Omgee • Bemoedig • Gebed

Groeigroepe

Groeigroepe (ook genoem kleingroepe of selgroepe)  gaan veral oor mekaar-bediening. Dit gaan oor huiskerke, en kerkwees in die week. Dit gaan oor die gemeenskap van gelowiges. Dis die voorreg van saam bid, saam leer en saam groei! Ons is mekaar se broers en susters en geestelike familie.

Ons het mekaar só nodig! Jesus verbind ons nie net aan Homself nie, maar Hy verbind ons ook aan mekaar. Ek haal aan uit Mat 18:19–20. “Verder verseker Ek julle: As twee van julle op aarde oor enige saak saamstem en daaroor bid, sal my Vader wat in die hemel is, hulle dit laat kry, want waar twee of drie in my Naam saam is, daar is Ek by hulle.” Die Woord leer ons ook dat vriende mekaar vorm. Mag ons instrumente wees wat die beeld van Jesus in mekaar help uitbring. Groeigroepe is `n geleentheid waar ons almal kan dien met die gawes wat die Here ons gee. Jesus het die grootste deel van sy tyd in bediening bestee aan 12 Dissipels.

Ef 4:15–16. “Nee, ons sal in liefde by die waarheid bly en so in alle opsigte groei na Christus toe. Hy is immers die hoof, en uit Hom groei die hele liggaam. Die verskillende liggaamsdele pas by mekaar en vorm saam ’n eenheid. Elkeen van hulle vervul sy funksie, en so bou die liggaam homself op in liefde.

Kontakpersone:

Mannebediening


Hierdie bediening het sy ontstaan in 2008 gehad met die hoofdoel om mans te ondersteun om Manne van God te wees. Die mannebediening is ‘n veilige plek waar manne in absolute vertroue oor die uitdagings in sy lewe kan gesels en die ondersteuning en liefde van mede broers kan ervaar.

Die Mannebediening staan op vier pilare in sy strewe om Manne van God te ondersteun:

  • Geestelike groei
  • Broederskap
  • Aanbidding
  • Uitreiking

Kontakpersoon:

Seniorbediening


Die Seniorbediening is ‘n unieke en aktiewe groep lidmate wat afgetree het en die behoefte het om by ‘n gemeenskap van gelowiges aan te sluit wat dieselfde belange het en verlang na geselskap en saamwees.

Die Seniors kom elke Woensdagoggend om 9:00 tot 11:00 in die nuwe gebou bymekaar. In die Desember vakansie is daar geen byeenkomste nie.

Die byeenkomste word afgewissel deur een week Bybelstudie te doen en saam te sing en die volgende week kuier almal saam en gesels oor gemeenskaplike sake. Om vreugde in die aangesig van die lewe se swaarkry te vind en te behou is ons uitdaging.

Die Seniors deel lief en leed en reik uit na mekaar om ander se nood raak te sien en doen gereeld voorbidding  vir diegene wat  persoonlike moeilike tye beleef. Met spesiale geleenthede soos verjaarsdae word dit saam gevier. Daar is altyd ‘n spesiale afsluitings geleentheid aan die einde van die jaar.

Ons bede is ook dat die seniors self nog aktief in die gemeente betrokke sal raak want daar is nêrens in die Woord ‘n afsny-ouderdom vir dissipelskap nie.

Kom en word deel van ‘n dinamiese groep wat ‘n integrale deel vorm van die Gereformeerde Kerk Linden.

Kontakpersoon:

Siekebediening


Die siekebediening besoek siek lidmate in hospitale en tuis, bemoedig hulle deur Bybellees en gebed, en luister en huil soms net saam. Ook in die vreugde van nuwe babas word gedeel.

Kontakpersoon:

Vroue by Jesus se Voete (Vrouebediening)


Die Vroue by Jesus se Voete verwelkom alle dames wat wil groei in Meer Jesus, Meer Liefde, Meer Dissipels.
Ons spits ons toe om soos Maria in Lukas 10:42 by Jesus se voete te sit en te kies om na Hom te luister.
Ons wil graag dissipels wees wat dissipels maak waar ons ook al gaan.
Ons doen dit deur maandelikse byeenkomste waar onderwerpe behandel word wat vroue nader trek aan die Here.

Kontakpersoon:

Sarfat


“Gaan na Sarfat toe by Sidon en gaan bly daar. Ek het ‘n weduwee daar opdrag gegee om vir jou te sorg.” 1 Konings 17:9

Hy gaan toe na Sarfat toe, en toe hy by die poort van die stad kom, was daar ‘n weduwee net besig om houtjies op te tel. Hy vra haar toe: “Gee my asseblief ‘n bekertjie water om te drink.” 

Wat doen ons?

  • Korttermyn, broodnodige hulp
  • Bid saam en vir hulpbehoewendes
  • Sarfat help bevestigde nood aanspreek, van GKL lidmate in die besonder, binne die grense van fondse beskikbaar.
  • Hulp verlening word op ‘n konfidensiële basis hanteer en daarom is dit nie moontlik om besonderhede van Sarfat se werksaamhede bekend te maak nie. As dit op jou hart druk om hulp by te dra vir die doel, word dit waardeer
  • Tyd, middele, kundigheid

“As jy byvoorbeeld armes help, moet dit nie uitbasuin nie. …… Nee, as jy iets vir die armes gee, moet jou linkerhand nie weet wat jou regterhand doen nie.” – Matteus 6:3

Wat doen ons nie?

  • Weens sosiale impak en ook goeie orde word geen geld op kampus gegee of gehou nie. 
  • Help sonder dat persoonlike verantwoordelikheid geneem word nie
  • Help sonder om afhanklikheid te skep
  • Help sonder omgee – dis nie ‘n tjekboek-bediening nie
  • Help sonder verstaan

Kontak:

Lering | Verryking • Seminare • Kursusse • Verdieping

Preekskaaf


Preekskaaf word weekliks Vrydae 09:30-11:00 gedurende skoolkwartale in die nuwe gebou gehou. Die GKL leraars lei die
bespreking roterend. Die teksgedeelte vir voorbereiding vir die bespreking word weekliks voor die byeenkoms uitgestuur. Daar is groepbespreking en lering oor die teksgedeelte waaroor gepreek gaan word.

Preekskaaflede is ook meelewend teenoor mekaar en bid  vir mekaar.

Rom.10:17: Die geloof kom dus deur die prediking wat ‘n mens hoor, en die prediking wat ons hoor is die verkondiging van Christus.

Kontakpersoon:

Oorwinnaars


Die Oorwinnaarsbediening het die geloofsvisie om onder die salwing van die Heilige Gees mense te lei tot genesing en bevryding van leuens asook van hulle sondige en gebroke verlede. Wanneer hul identiteit in Christus gevestig is, kan hulle Geesvervuld uitgaan om dissipels van Jesus te maak.

“..As julle aan My woorde getrou bly, is julle waarlik my dissipels; en julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vry maak.” (Joh. 8:31,32). Die hoofdoel van die Oorwinnaarsnaweek is om jou te help om jou vryheid in Christus te verstaan, te (her)ontdek en opnuut te beleef. Nege areas in jou lewe word belig vanuit die waarheid van die Skrif. Daar word nie van jou verwag om enige-persoonlike dinge met ander te deel nie. Alles wat tydens die kursus gebeur is tussen jou en God.

“Wat die gawes van die Gees betref, broers, wil ek hê dat julle ingelig moet wees.” (1 Kor. 12:1) Die Heilige Gees Bemagtigingsnaweek is ʼn opvolggeleentheid waar kursusgangers meer leer van die Heilige Gees en sy werking. Die fokus is op die bedieningsgawes van die Gees wat gelys word in 1 Korintiërs 12 en 14.

Die Oorwinnaarsbediening het ontstaan vanuit Bergbron Gemeente o.l.v. Ds. Stephan Briel. In 2012 het ‘n groepie van GKL se gemeentelede ‘n loodskursus by fasiliteerders van die Bergbron Gemeente  bygewoon. Fasiliteerders van beide gemeentes werk nou saam om kwartaalliks verskeie toerustingsgeleenthede by GKL aan te bied.

Kontakpersoon:

Journey


Journey se hooffokus is om as ʼn dissipelskap-program, ʼn veilige ruimte vir mense te bied om Jesus te ontmoet. Ondergeskik aan laasgenoemde, gee Journey ook toerusting aan kerke om mense met uitdagings op verhoudings- en seksuele vlak, by te staan. Journey funksioneer as ʼn program van die plaaslike gemeente. Die materiaal en opleiding word verskaf deur Journey South Africa wat ook deel vorm van Journey International. 

Kontakpersoon:

Biblioteek


GKL het ‘n groot verskeidenheid boeke en DVD’s.

Kontakpersoon:

Oriënteringskursus vir nuwe lidmate


Efesiërs 2:9
 “Julle is dus nie meer ver van God af nie, nie bywoners nie, maar medeburgers van die gelowiges en lede van die huisgesin van God.”

Kom leer oor Meer Jesus, Meer Liefde en Meer Dissipels; wat dit in praktyk beteken vir elkeen van jou medeburgers in die gemeente.

Ook: kom verstaan hoe Leierskap en Strukture in GKL werk; wie vir wat verantwoordelik is en hoekom dinge so glad verloop.

Ontmoet en kuier met verskeie rolspelers in die gemeente, o.a. Jacob Pretorius, Willem van der Waal, Danielle Petzer, Paul Schutte (Voorsitter van die Kerkraad), Neels Kornelius (Voorsitter van die Bedryfskomitee) en leiers van verskeie bedieninge van GKL.

Kom hoor ook: Is Jesus werklik die leier in GKL?

Bestaande lidmate is ook welkom om die kursus by te woon.

Kontakpersone:

Geloofsbelydenis

geloofbelydenis

Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde.

En in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here;

wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore is uit die maagd Maria;

wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het en begrawe is en ter helle neergedaal het;

wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode;

wat opgevaar het na die hemel en sit aan die regterhand van God, die almagtige Vader,

van waar Hy sal kom om te oordeel die wat nog lewe en die wat reeds gesterf het.

Ek glo in die Heilige Gees.

Ek glo aan ʼn heilige, algemene Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges;

die vergewing van sondes;

die opstanding van die vlees

en ʼn ewige lewe.

Uitreik na Ander

uitreik

Gaan saam met die Ark op ‘n uitreik.

Dissipelskap

dissipelskap

Loop ’n pad met iemand wat nie Jesus ken nie en kom getuig daarvan by die Ark.

Vrug van die Gees

vrug van die gees

Galasiërs 5:22-23:

  • Liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing. 

Nuwe Testament

nuwe testament

Boeke van die Nuwe Testament:

  1. Matteus
  2. Markus
  3. Lukas
  4. Johannes
  5. Handelinge (van die apostels)
  6. Romeine
  7. 1 Korintiërs
  8. 2 Korintiërs
  9. Galasiërs
  10. Efesiërs
  11. Filippense
  12. Kolossense
  13. 1 Tessalonisense
  14. 2 Tessalonisense
  15. 1 Timoteus
  16. 2 Timoteus
  17. Titus
  18. Filemon
  19. Hebreërs
  20. Jakobus
  21. 1 Petrus
  22. 2 Petrus
  23. 1 Johannes
  24. 2 Johannes
  25. 3 Johannes
  26. Judas
  27. Openbaring

Profete

profete

Hoofprofete

  • Jesaja, Jeremia, Esegiël en Daniël.

Sekondêre profete

  • Hosea, Joël, Amos, Obadja, Jona, Miga, Nahum, Habakuk, Sefanja, Haggai, Sagaria en Maleagi.
  • Hulle word onderskei van die Hoofprofete omrede hulle kort boeke geskryf het wat in die Bybel opgeneem is.

 

Onse Vader

onse vader

Matteus 6:9-13:

“Onse Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde; gee ons vandag ons daaglikse brood; en vergeef ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe; en lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” 

10 Gebooie

pentateug

Eksodus 20:2-17

“Ek is die Here jou God wat jou uit Egipte, uit die plek van slawerny, bevry het. Jy mag naas My geen ander gode hê nie. “Jy mag nie vir jou ‘n beeld of enige afbeelding maak van wat in die hemel daarbo of op die aarde hieronder of in die water onder die aarde is nie. Jy mag hulle nie vereer of dien nie, want Ek, die Here jou God, eis onverdeelde trou aan My. Ek reken kinders die sondes van hulle vaders toe, selfs tot in die derde en vierde geslag van dié wat My haat, maar Ek betoon my liefde tot aan die duisendste geslag van dié wat My liefhet en my gebooie gehoorsaam. “Jy mag die Naam van die Here jou God nie misbruik nie, want die Here sal die een wat sy Naam misbruik, nie ongestraf laat bly nie. “Sorg dat jy die sabbatdag heilig hou. Ses dae moet jy werk en alles doen wat jy moet, maar die sewende dag is die sabbat van die Here jou God. Dan mag jy geen werk doen nie, nie jy of jou seun of jou dogter of die man of vrou wat vir jou werk, of enige dier van jou of die vreemdeling by jou nie. Die Here het in ses dae die hemel en alles daarin gemaak, die aarde en alles daarop, die see en alles daarin. Op die sewende dag het Hy gerus, en daarom het die Here dit as gereelde rusdag geheilig. “Eer jou vader en jou moeder, dan sal jy lank bly woon in die land wat die Here jou God vir jou gee. “Jy mag nie moord pleeg nie. “Jy mag nie egbreuk pleeg nie. “Jy mag nie steel nie. “Jy mag nie vals getuienis teen ‘n ander gee nie. “Jy mag nie iemand anders se huis begeer nie. Jy mag nie sy vrou begeer nie, ook nie ‘n slaaf of slavin, ‘n bees of ‘n donkie, of enigiets anders wat aan hom behoort nie.”

Ou Testament

ou testament

39 Boeke van die Ou Testament:

  1. Genesis
  2. Eksodus
  3. Levitikus
  4. Numeri
  5. Deuteronomium
  6. Josua
  7. Rigters
  8. Rut
  9. 1 Samuel
  10. 2 Samuel
  11. 1 Konings
  12. 2 Konings
  13. 1 Kronieke
  14. 2 Kronieke
  15. Esra
  16. Nehemia
  17. Ester
  18. Job
  19. Psalms
  20. Spreuke
  21. Prediker
  22. Hooglied
  23. Jesaja
  24. Jeremia
  25. Klaagliedere
  26. Esegiël
  27. Daniël
  28. Hosea
  29. Joel
  30. Amos
  31. Obadja
  32. Jona
  33. Miga
  34. Nahum
  35. Habakuk
  36. Sefanja
  37. Haggai
  38. Sagaria
  39. Maleagi

Pentateug

pentateug

Eerste 5 boeke van die Bybel:

  1. Genesis
  2. Eksodus
  3. Levitikus
  4. Numeri
  5. Deuteronómium